Hoe berei jy voor om ’n Bybelstudiegroep te lei?

'n Foto van 'n vrou wat met 'n oop Bybel sit. Sy hou een van die bladsye vas met haar hand.

Hier is 10 wenke om kleingroepleiers te help!

Om ’n kleingroep te lei kan ’n lonende en vervullende ervaring wees. Dit is ’n wonderlike manier om die mense rondom jou te help om in hulle geloof te groei.

Maar tog is dit harde werk om ’n kleingroep te lei. Dit verg noukeurige voorbereiding, aandag aan klein besonderhede, en ’n groot begeerte om ander mense te dien.

Hier is 10 wenke om jou te help om voorbereid te voel en jou kleingroep doeltreffend te lei:

  1. Leer ken jou kleingroep om te verstaan wat hulle uit elke ontmoeting wil kry.
  2. Kies Bybelstudie-onderwerpe wat relevant is vir jou groep.
  3. Onthou dat jy daar is om te lei, nie om te preek nie.
  4. Stel ’n eenvoudige lesplan saam vir elke ontmoeting.
  5. Beplan ’n paar oop vrae om die groepbespreking te lei.
  6. Dink aan maniere om julle ontmoetings meer interaktief te maak.
  7. Stel doelwitte vir jou kleingroep en besluit hoe jy dit gaan bereik.
  8. Bied ondersteuning aan elke groeplid.
  9. Leer wat vir jou kleingroep werk, en doen meer daarvan.
  10. Bid gereeld vir jou groep en dat julle ontmoetings ’n blywende impak sal maak.

Button with text: "Begin jou Bybelstudieboek!"

Hierdie artikel sal jou help om meer voorbereid te voel om jou kleingroep te lei. Kyk na ons 10 wenke en begin jou eerste kleingroepontmoeting op die regte noot.

1) Leer ken die mense in jou kleingroep

Hoe meer jy van jou groeplede weet, hoe meer relevant kan jy elke ontmoeting vir hulle maak. Dink na oor die ouderdom, geslag, agtergrond en geestelike behoeftes van die mense in jou groep. Is hulle jong studente? Is hulle huwelikspare? Is hulle ouderlinge in jou gemeente? Gebruik hierdie inligting om jou ontmoetings te beplan.

2) Kies relevante Bybelstudie-onderwerpe

Dieselfde onderwerpe werk nie altyd vir jongmense én ouderlinge nie. Gedurende die verskillende fases van ons lewe het ons verskillende vrae en bekommernisse. Dit beïnvloed wat ons nodig het om geestelik te groei. Jongmense wil dalk weet hoe om groepsdruk te hanteer, terwyl getroudes eerder oor huweliksake wil gesels. Maak seker dat jy onderwerpe kies wat relevant is vir die groeplede.

3) Lei jou groep, moenie net preek nie

Onthou dat die doel van kleingroepe is om oor Christelike onderwerpe te gesels. Dit is ’n ruimte waar ons by mekaar leer en ons idees deel. Maak seker dat jy jou groep begelei in plaas daarvan om vir hulle lang preke te gee.

4) Stel ’n lesplan saam vir elke ontmoeting

Dit help om ’n duidelike idee te hê waaroor elke ontmoeting sal gaan. Wat gaan julle bespreek? Op watter teksverse gaan julle fokus? Stel losweg ’n lesplan saam, maar laat ruimte vir groepbespreking, saam lees en gebed. Dit is nie nodig om jou lesplan 100% te volg nie – dit is belangriker dat jou kleingroep iets waardevols leer.

5) Beplan oop vrae om die groepbespreking te lei

As leier moet jy seker maak dat jou kleingroep gefokus bly op die Bybelstudie. Dink voor die ontmoeting aan ’n paar oop vrae wat jy kan vra om die groeplede tydens die bespreking te begelei. Help jou kleingroep om verskillende perspektiewe in te neem en om die boodskap van die Bybelstudie te ontsluit.

6) Maak jou kleingroep interaktief

Watter maniere kan jy gebruik om jou groep meer aan die gesels te kry? Sommige mense is skaam en sal eerder stilbly as om hulle gedagtes en idees met die groep te deel. Maak seker dat jy vir almal ’n kans gee om hulle bydrae te maak.

7) Stel doelwitte vir jou kleingroep

Dink na oor wat jy wil hê jou kleingroep moet bereik. Wil julle ’n spesifieke Bybelstudie voltooi? Wil julle meer saam bid? Maak tyd gedurende julle eerste ontmoeting en skryf hierdie doelwitte neer met die hulp van almal in die groep.

8) Bied ondersteuning aan elke groeplid

Onthou dat jou groep ’n veilige ruimte vir jou lede moet wees. Gee ondersteuning waar nodig, en maak seker dat elke persoon vertroulik met jou kan gesels.

9) Leer wat werk vir jou kleingroep

Doen jou bes en beplan soveel moontlik vir jou eerste ontmoeting. Alles mag dalk nie perfek verloop nie, maar so leer ’n mens. Ná julle eerste ontmoeting sal jy weet wat vir jou en jou kleingroep werk (en wat nie). Dan pas jy jou planne aan. Met elke ontmoeting sal dinge gladder verloop.

10) Bid gereeld vir jou groep

Laastens is dit belangrik om gereeld met God te praat oor jou kleingroep. Laat jou bekommernisse aan Hom oor en deel jou drome vir die groep met Hom. Met sy hand oor jou kleingroep kan jy enige struikelblok oorwin. 

Samevatting

’n Goeie Bybelstudiegroep begin by jou as leier. Hoe jy hierdie taak aanpak, het ’n impak op jou kleingroep en hulle geestelike groei. Moenie bekommerd wees nie! Hou net die wenke hier bo in gedagte en jy sal jou kleingroep sommer met die intrapslag doeltreffend kan lei.

Is jy op soek na ’n Bybelstudieboek vir jou kleingroep? Ons het ’n wye reeks Bybelstudies oor verskillende onderwerpe: vroue van die Bybel, Jesus se lewe op aarde, geloofsreise, spesifieke Bybelboeke, en vele meer. 

Kies een wat jou kleingroep opgewonde sal maak.

Button with text: "Blaai deur ons reeks!"